‘Bly uit water, pa, krok is daar’
Grote in Vaal geskiet ná agtjarige hom sien
Deur Tarren-Lee Habelgaarn Maandag 27 April 2015 07:14
‘Pappa moet asseblief nie in die water gaan nie. Ek belowe voor liewe *****, ek het die krokodil gesien.â€
Dit was die smeekwoorde van die agtjarige roeier Lyton Oelofse aan sy pa, Linton, nadat hy Saterdagoggend naby hul huis in Parys ’n kop-aan-kop-botsing met ’n 2,4 m lange krokodil in die Vaalrivier gehad het
Lyton was besig om te oefen vir ’n roeikompetisie toe hy in iets vasroei.
“Ek het eers gedink dis ’n tak, maar toe ek sien hoe dit onder die water verdwyn, toe weet ek dis die krokodil,†het hy gesê.
Lyton het sy pa toe op die oewer gaan roep en gesmeek om nie in die water in te gaan nie.
“Ek het eers vir hom gesê hy praat nonsens, maar toe sien ek sy gesig is bleek.
“Ek het toe saam met hom gaan roei om die krokodil te soek en voordat hy sy arm kon oplig om my te wys waar hy die krokodil gesien het, het die krokodil opgekom,†het Linton vertel.
“Ek het onmiddellik vir Saal de Jager, voorsitter van die Likkewaan-kanoklub, en Pieter Kemp, voorsitter van die Landelike Gemeenskapsveiligheidsgroep, gebel en ons het in ’n groep saam na die krokodil begin soek.â€
Dit was ’n spanpoging om die krokodil te vang. Die krokodil het kort-kort verdwyn. 21:00 is hy geskiet en uit die water gehaal.
Volgens Kemp soek die gemeenskap en natuurbewaarders al drie weke lank na ’n 4,5 m lange krokodil wat in die rivier naby die Dell Cheetah-sentrum, sowat 4 km van Likkewaan-kanoklub, gesien is.
“Ons was nie te bekommerd oor die krokodil toe ons hom eers in die water gesien het nie, want hy was toe nie ’n gevaar vir mense nie.
“Maar toe hy by die kanoklub gesien is, moes ons drastiese stappe doen,†het hy gesê.
“Ons het met die natuurbewaarders gekommunikeer en hulle het aanbeveel dat ons die krokodil skiet, want ons kon hom nie in die hok vang nie en hy het geswem waar daar baie kinders en mense in die water is.â€
Die krokodil weeg 65 kg.
De Jager het gesê die kinders is bang om in die water in te gaan weens ’n vermoede dat daar nog ’n krokodil in die water is.
“Mense moet net versigtig wees.
“Hier was nog nooit ’n krokodil in ons rivier nie. Ons het tot nou twee gesien en is nog op soek na die een.â€