As jy jou rietvleistrop met 'n sterk skaglyn van 30lb bind en jy het net een hoeklyn van 10lb dan is jou strop veilig genoeg. Jou sinker kan nou wel nie afgly nie, maar onthou dat jou hoeklyn is maar 10lb. Selfs 'n klein karpie breek daai 10lb vinnig. Die lyn is ook monofilament so dit gan deur skaaf en daar is rek in wat dit makliker laat breek. Verder moet jou hooflyn tenminste 10lb wees met 'n lekker leader van 20 - 30lb. Jy verloor nie sommer 'n vis nie en as iets afbreek is dit gewoonlik jou hoeklyn. Die probleem met stroppe is die twee hoeke, dun skaglyne, leaders en hooflyn en as die ouens braid as hoeklyn gebruik. Gebruik dikker lyn vir jou skaglyn, leader en hooflyn, gebruik 10lb mono vir jou een hoeklyn en jou rietvleistrop is veilig genoeg vir klein karp. Let asseblief op dat dit vir klein karp is. Ek vang nie met hierdie gerei in damme wat struktuur het en baie vis oplewer oor 5kg. Dis onverantwoordelik om met opset karpe oor 5kg in damme met struktuur te teiken.
As die groter vis begin byt en die eerste een breek jou af, hou op vang of gebruik ander gerei.