Polution in Vaaldam.

Sharky2

Senior Member
Saw this in the Beeld this morning,shocking stuff!

’n Strafregtelike klag is ingedien teen ’n plaaslike owerheid omdat “lakse” en “onkundige” amptenare “roekeloos” toelaat dat rioolafval “dag en nag” direk in Suid-Afrika se grootste bron van drinkwater instroom.

Mnr. Pieter van der Westhuizen, inwoner van Villiers en voorsitter van die Villiers-krisiskomitee, het die klag teen die Mafube plaaslike owerheid (Frankfort, Villiers en Cornelia) aanhangig gemaak.

“Alles gaan ten gronde. Eers is dit die krag, nou is dit die water,” het Van der Westhuizen gister gesê.

Volgens Van der Westhuizen loop Frankfort en Villiers se rioolafval onverpoos deur onderskeidelik die Wilge- en die Vaalrivier in die Vaaldam.

Dié twee riviere is die grootste voedingsbronne van die Vaaldam.

Van der Westhuizen het gesê hy het etlike jare lank “mooi gepraat, gesoebat en hulp aangebied”, maar toe hy onlangs ’n rondewurm (Ascaris lumbricoides) op sy stortvloer by die huis kry, het hy besluit “genoeg is genoeg” en het hy het die klag by die polisie ingedien.

Rondewurms is ’n parasiet wat voorkom waar rioolafval in die omgewing beland.

Me. Antoinette Ferreira van die nasionale vervolgingsgesag (NVG) in Bloemfontein het gister bevestig ’n dossier is aangelê en dat die polisie die saak ondersoek. Na verneem word, hou die klag verband met nalatigheid.

Van der Westhuizen het gesê ’n boer wat op die oewer van die Vaalrivier boer, het onlangs van sy beeste se mis en bloed by ’n laboratorium in Vrede laat ondersoek. Die uitslag het getoon dat dié diere ook met rondewurms besmet is.

Mnr. Nakana Masoka, Mafube se munisipale bestuurder, het gister gesê daar was ’n probleem by Villiers en Frankfort se rioolsuiweringswerke, maar dat dit “opgelos is”.

Volgens hom het die plaaslike owerheid “ ’n aanmaning” van die departement van waterwese en bosbou ontvang waarin Mafube opdrag gegee is om hul huis binne twee weke in orde te kry.

“Dit is nou gedoen,” het hy gesê. Miljoene is al uitgegee aan die herstel van rioolpompe, volgens Masoka.

Van der Westhuizen hou egter vol dat die rioolafval steeds oral in die Vaaldam inloop.

Mnr. Francois van Wyk, bestuurder van die Vaalrivieropvangsgebied by Randwater, het gister gesê die Vaaldam is so groot dat die rioolafval nie werklik ’n invloed het op drinkwater nie.
 
Top