Amper verdrink

kenny65

New member
Vir Boeda
‘n Klompie jare terug toe die Wilgerbome by Wilgedraai langs die Vaaldam nog jong boompies was het ek en my swaers daar in die hartjie van die winter gaan visvang.

Dit was baie jare terug toe ek nog hare gehad het en skraal was. Ek kon ‘n kano nog lekker roei sonder gevaar dat die water oor die kante sal stroom.

Ek het so ‘n blou kano gehad wat al dekades in ons familie was. Eers my oupa s’n daarna Piet Prinsloo en daarna het ek dit gekoop en na baie jare vir Manie Nelson gegee.

Die kano was seker meer as 35 jaar iewers in ons familie. Dit was soos gese, genuine winter. Ek het so 20 streep sakke hout saamgehad en ons het ‘n reuse vuur gemaak.

So op stretchers rondom die vuur gebly en gekuier en gekuier. Daardie jare het ek redelik diep in ‘n paar bottles gekyk, soos ons maar jonk was. Die saterdagaand na die vleisbraaiery het ons rustig geraak en darem so slag of wat lyne ingevat met die hoop dat ons ‘n groot karp of twee kan vang.

Ons het in Night Hawk katrolle geglo en het dan gewoonlik ons lyne baie diep ingevat.

My swaer Hannes het sy lyne reggekry en ek het dit vir hom aangegee en hy het geroei. Ek was besig met die tweede koeldrankie toe ek besef die man is nog steeds besig om te roei. Sy katrolle het 600 m lyn op en dit is amper klaar.

Ek spring op en hou die katrolle effens vas sodat hy voel en ek skreeu dat my army stem so oor die water weergalm. My swaer Andre Cook staan ook nader. Saam skreeu en gil ons dat hy ons moet hoor.

Die katrolle raak stil en ons bestorm weer die vuur want die koue het amper ons bene afgebyt.

Ek het so ingesluimer toe ‘n hamer my voor die kop tref.

Waar is Hannes? Hy moes lankal al terug gewees het. Ek spring so erg op dat ek amper my komberse in die vuur laat beland.

Gooi ekstra hout op die vuur want ek besef ons kort ekstra lig. Ek begin weer met my gille en die ander ouens vra wat gaan aan.

Ek se Hannes moes lankal terug gewees het. So roep en gil ons almal weer en seker na ‘n half uur hoor ons ‘n geplas in die water seker so 200 m in.

Kyk ons het besef die man is in groot moeilikheid en kon hoor hy kan nie meer nie. My swaer Herman (Boeda) gaan in om hom te help. Ek se vir hom trek jou klere uit want as jy uitkom is al jou warmgoed nat, maar hy is klere en al in om Hannes te help.

Ek trek my kaalgat uit en gaan ook in om te help. Die water was leeu koud. Nee nog kouer. So 100 m ingeswem toe ek hulle kry.

Maar gehelp tot op die kant en was baie bly Hannes is ok. ‘ nHanddoek gegryp en my kaalgat afgedroog. Kyk toe brand my lyf soos ‘n gloeilamp. Ek was eintlik warm. Ek het darem droee klere gehad om aan te trek, maar hulle s’n was papsopnat.

Ons het daardie vuur so toegesit dat daar nie eers plek was vir die rook om op te trek nie.

Toe Hannes die lyne wou afgooi haak hy ‘n hoek in sy voet, met die gesukkel om die hoek uit te haal gooi hy toe die kano om. Hy het nie ‘n life jacket aangehad nie.

Gelukkig sink die kano nie maar dryf so voet onder die water. Hy het vasgeklou aan die kano en kant toe geswem. Oorkant was daar net een liggie wat gebrand het en dan ons gaslampie. Hy was watervlak en sien die liggie en swem soontoe.

Eers toe ek die vuur groter maak en hy omgekyk het besef hy hy swem na die verkeerde oewer toe. Gelukkig het die kano bly dryf, al was dit so halflyf onder die water.

Slegs met GENADE het hy oorleef. Hier het ek weer ‘n keer ‘n baie groot les geleer. As jy nie ‘n life jacket aan het nie, sorry jy gebruik nie my kano nie.

Jy kan maar kwaad wees, ek gee nie om nie. My swaer Herman is ‘n jaar na die naweek oorlede en ek wens ek kan net weer ‘n slag saam met hom om ‘n kampvuur sit, saam met hom ‘n vleisie braai, saam met hom visvang……….

My roeispaan is tot vandag toe weg, so as jy iewers daar by Wilgedraai visvang en ‘n roeispaan kry wat sonder ‘n kano rondroei, kontak my asseblief, dit is myne…

Mis jou Boeda
 

Sidd

Senior Member
Very touching story. I know what its like to lose a fishing buddy.
In all my years of fishing I've already lost 2 friends. I'm fortunate though I have my sons that go with.... take care
 

shuraj

Sealiner
Nice story Kenny , sorry to hear about to fishing buddy.

I'm sure this story is told at most of your get togethers.
 
Top