Berkley Mitchell Bloemhofdam Bonanza 2013 – n nuwe begin![/b]
Die dertiende jaarlikse Bloemhofdam Bonanza het vanaf 26-28 April in die beste hengelweer vir die toernooi ooit plaasgevind. Die dae was feitlik windloos en heerlik warm met aandtemperature bo 10 grade celsius.
Mitchell Berkley het by Spar as die hoofborg van die Bloemhofdam Bonanza oorgeneem. Die nuwe borg is een van die grootste verspreiders van hengelgerei in Suid-Afrika en die hengelaars het hope puik hengelgerei gewen. Spar het egter nie van die gewilde toernooi onttrek nie en het steeds koopbewyse ter waarde van R40 000 geborg wat deur die deelnemers verwelkom is.
Die dam was net meer as 40 persent vol. Dit het heelwat uitdagings aan die boothengelaars gestel om die talle sandbanke te vermy, maar groot hengeloewers vir die oewerhengelaars blootgestel. Die lekker hengelweer het gesorg dat daar baie en goeie vangste gemaak is. Babers van tot 23kg en karp van 9 kg was die grootstes wat uitgekom het.
Die Stywe Lyne Spanne kompetisie het op Vrydag plaasgevind. Die format van die toernooi het vanjaar verander met graskarps in plaas van karps as die teikenspesie. Graskarp is ‘n uitheemse indringer visspesie en hengelaars het hulle swaarste sak graskarp ingeweeg in die kompetisie. Die swaarste sak was die span Rusties met ‘n sak van 9,91kg, gevolg deur Team Assasin met ‘n sak van 8,96kg en Damduikers in die derde plek met 8kg.
Die Berkley Mitchell Bonanza het ook op Vrydag begin en Sondag oggend ten einde geloop. Net meer as 1400 hengelaars het vanjaar aan die Bonanza deelgeneem. Die Mitchell Berkley Bonanza is ‘n individuele hengelkompetisie.
Die algehele wenner word bepaal deur jou grootste karp en baber te weeg. Die gewig word volgens die Eco-Care hengeltabel in punte omgesit. Boothengelaars verdien minder punte per gewig as oewerhengelaars. Die hengelaar met die meeste punte vir die twee spesies is die algehele wenner.
Vanjaar het Dawie Horn, ‘n boothengelaar, gewys hy kan visvang deur die algehele wenner te wees met ‘n totale punt van 1884,50 punte. Dawie Horn het die toernooi ook in 2002 gewen. Hy het die Bonanza nog nie een jaar gemis nie. Sy baber het 22,98kg geweeg en sy karp 6,88kg. Dawie is met R100 000 kontant bekroon as wenner van die Mitchell Berkley Bloemhofdam Bonanza. In die tweede plek was Giel van Heerden, ‘n oewerhengelaar, met 1852,4 punte wat hy met ‘n baber van 13,16kg en ‘n karp 9,02kg verdien het. Hy het ‘n Veldyskas twv R20 000 met die komplimente van 4x4 Megaworld gewen. Derde algeheel was Niekie Bohmer ook n boothengelaar. Hy het ‘n baber van 20,88kg en ‘n karp van 6,7kg gevang om ‘n rubberduck met Jarvis Walker elektriese motor twv R15000 gewen. Sy totale punte was 1765,6.
Die Spesie wenners was Tim van Wyk wat ‘n baber van 21,23kg en Rassie Pieterse met ‘n karp van 9kg. Die spesie wenners word deur die grootste vis in die afdeling bepaal.
In die Top Tien afdeling kompeteer die boot- en oewerhengelaars in hulle eie afdelings teen mekaar en bepaal jou enkel baber of karp wat die meeste punte per spesie verdien jou posisie. Die wenners van die Top Tien afdeling het onder meer fantastiese hengelgerei geborg deur Berkley en Mitchell en Spar koopbewyse ontvang.
Die beste boothengelaar in die was Ernst du Plessis met ‘n karp van 7,04kg. In die tweede plek Michiel Strydom met ‘n baber van 20,84kg en derde ‘n junior, Johan Hattingh, met ‘n karp van 6,96kg.
Anton van Heerden was die beste oewerhengelaar in die afdeling en het ‘n baber van 19,8kg gevang. Tweede was Jurien Moolenbeeck met ‘n baber van 18,68kg en derde Morne de Wit met ‘n karp van 7,18kg.
Dit was opmerklik dat beide karp en babers goed verteenwoordigend in die pryse deurgekom het, wat ‘n aanduiding is dat die punte tabel werk.
In die Damesafdeling het Cornel Herbst met ‘n karp van 7,74kg eerste gekom. In die tweede plek was Lenie Venter met ‘n karp van 6,5kg gevolg deur Christa Schutte met ‘n baber van 18,4kg. Spar het R10 000 se koopbewyse in die damesafdeling as pryse geborg.
In die Juniorafdeling het Tiaan Duffy koning gekraai met ‘n baber van 15,62kg, gevolg deur John Henry Crous met ‘n karp van 6,1kg en Davin Janse van Vuuren met ‘n karp van 5,86kg.
Die Big Banger pryse geborg deur Danlou Marine, Klerksdorp en Westvaal Motors, Welkom is nie vanjaar gewen nie.
Die Paindane Mosambiek vakansieprys ter waarde van R16400 is deur Jan Nel gewen.
End.