SEALINE - South African Angling and Boating Community Home 
Home Recent Search search Menu menu Not logged in - Login | Register
SEALINE - South African Angling and Boating Community > Freshwater Angling > Kurper Forum > DIE BEDREIGING VAN ONS BLOUKURPER (VIR ELKE HENGELAAR)


 Moderated by: Emperor
New Topic Reply Printer Friendly
DIE BEDREIGING VAN ONS BLOUKURPER (VIR ELKE HENGELAAR)  Rate Topic 
 
AuthorPost
 Posted: Fri Jan 27th, 2017 08:23 pm
  PM Quote Reply
1st Post
buchi
Member


Joined: Tue Dec 3rd, 2013
Location: Pretoria, South Africa
Posts: 146
Equipment: Shimano, Sensation
Best Catch: Vis
Favorite Fishing Spot: Loskopdam, Arabiedam, Rust de Winter, Vaalkop, Klipvoor,Vaalrivier
Boat: n/a
Club: n/a
Status: 
Offline
Mana: 
Source: Dr Ben CW van der Waal
 
’n Gesogte hengelspesie wat ons inheemse bloukurper bedreig
 
Deel 2
 
In die eerste aflewering het ons vertel dat die Nylkurper ’n dodelike gevaar vir ons eie endemiese bloukurper inhou, en ook hoe dit hier beland het. Omdat hengelaars ’n positiewe rol behoort te speel in die bewaring van ons vislewe, gaan ons julle nou bemagtig met inligting oor die uitkenning van basters en wat ons as hengelkamerade te doen staan.

Die voortbestaan van bloukurpers hang van ons af
Hoë keerwalle en damwalle vorm tydelike of selfs permanente hindernisse vir vislewe wat altyd stroomop beur in ’n poging om hul gebied te vergroot. Sulke damwalle en ander obstruksies word normaalweg as nadelig vir vislewe beskou, veral vir migrerende vissoorte. Vislere (fishways) is dus in baie riviere in veral Kanada en Europa gebou om die waardevolle salm en forel toe te laat om stroomop te migreer. Die hindernisse wat gewoonlik negatief bejeën word, kan ’n bate wees om bestaande bevolkings van bloukurpers te beveilig – solank niemand enige baster- of Nylkurpers bo so ’n wal loslaat nie. Enige loslating bo ’n damwal sal die Nylkurper verder stroomop laat versprei. En dis byna soos vigs – die effek van ’n loslating van ’n paar Nylkurpers kan soms jare duur maar die gevolge is onomkeerbaar. Daar is geen bekende metode om een vissoort (soos die Nylkurper) selektief tussen ander visse uit te roei nie. Bowendien is kurpers effektiewe koloniseerders – ’n paar visse is genoeg om ’n dam weer te beset.
 
Etiese basis vir bewaring van bloukurper
Hengelaars vra dikwels waarom die gewaande “beter” Nylkurper dan nie maar in al ons damme en riviere losgelaat mag word nie – dit is mos veronderstel om ’n beter hengelvis as die bloukurper te wees! En as daar meer vissoorte in ’n hengelwater is, is die hengel mos beter. Wat maak dit nou eintlik saak watter vissoort ons in ons waters het, solank die vis maar hengelbaar is!
 
In die verlede is ’n soortgelyke onverdedigbare argument gebruik om uitheemse vissoorte soos karp, grootbek-baars en reënboogforel in Suid-Afrika in te voer vanaf Europa (karp en bruin forel) en Noord-Amerika (reënboogforel en swartbaarssoorte) deur die eertydse bewaringsinstansies self. Dis ingevoer om die sogenaamde gebrek aan geskikte plaaslike hengel- en akwakultuursoorte aan te vul. Enorme skade is en word tans nog deur veral kleinbek-baars veroorsaak deurdat hulle as roofvisse ons skaars rooivlerkies in die Kaapse riviere op die bedreigde spesielys help plaas het. Karp weer maak die omgewing vir ander waterlewe en vissoorte ongeskik deur hul voedingsmetodes. Hulle grawe gate in die sagte bodem op soek na invertebrate en maak só die water troebel.
Nog ’n sterker motivering vir bewaring van die bloukurper is die uitvoer van ons Godgegewe opdrag om die skepping te bewaar – dit sluit die verantwoordelike verspreiding van kurperspesies in.
 
Verwagte effek wat Nylkuper op die bloukurper in Suid-Afrika sal hê
Daar kan geargumenteer word dat hierdie kwansuise superieure Nylkurper asseblief in al ons warmer hengelwaters losgelaat moet word om hengel te verbeter!
 
Die antwoord is dat onbestuurde loslating van enige vreemde dier- of plantspesie altyd ’n risiko van ontwrigting vir die plaaslike ekosisteem meebring. Dis dus totaal onverantwoordelik. Dit is verder totaal onwettig om enige vissoort lewend te vervoer of los te laat sonder die nodige permit van die betrokke provinsiale natuurbewaringsdepartemente.
 
In die geval van die effek van Nylkurper op die bloukurper moet aan die volgende moontlike gevolge gedink word:
• Die Nylkurper kan vrylik kruis met ons bloukurper en dit sal ’n vrugbare baster tot gevolg hê met moontlik onverwagte negatiewe eienskappe. Gebreklike visse is alreeds in ’n plaasdam in die Limpopoprovinsie gevind.
• Die langtermyneffek sal die verdwyning van bloukurpers wees en verplasing deur ’n bastervis wat moontlik swakker eienskappe het as sy voorouers.
 
Is uitheemse vissoorte altyd ’n euwel?
In uitsonderlike gevalle skep menslike aktiwiteite ’n habitat soos ’n groot dam met diep, oop water waarvoor geen plaaslike vissoorte aangepas is nie. In so ’n geval kan ’n gepaste vissoort wel oorweeg word. ’n Mooi voorbeeld hiervan is die plasing van kapenta (Limnothrissa miodon) vanaf Tanganjikameer in Karibadam. Hulle kon die onbenutte diepwaterhabitat bevolk en daar van soöplankton lewe wat die oorspronklike Zambezivis nie benut nie. Dit vorm tans nog steeds die basis van ’n sterk visseryindustrie wat gedroogde kapenta bv na Suid-Afrika uitvoer.
 
Oorwegend is die effek egter negatief. Daar is verskillende maniere waarop ’n uitheemse vissoort ’n bedreiging vir die plaaslike akwatiese lewe kan word en dan as ’n indringerspesie beskou moet word:
1. Dit kan as ’n roofvis optree wat inheemse soorte kan uitwis – kleinbek-baars in riviere in die Oos- en Wes-Kaap.
2. Dit kan die habitat verniel – soos karp wat sedimente en modder versteur wanneer hulle invertebraatvoedsel soek of graskarp wat alle waterplante vernietig.
3. Dit kan direk om voedsel en nesmaakplek meeding.
4. Dit kan met inheemse soorte verbaster en só onherroeplike skade veroorsaak aan die biodiversiteit.
 
Die Nylkurper se effek val onder punte 3 en 4. Die ergste is dat veral die laaste impak onomkeerbaar is.

Om die bloukurper dus regtig te beskerm, sou die ideaal wees om die Nylkurper heeltemal te elimineer in Suid-Afrika. Dit is ongelukkig prakties nie moontlik nie want die kerngedeelte van die bloukurper se verspreidingsgebied is alreeds besmet.
 
Die enigste opsie is dat die potensiële gevaar van verdere verspreiding onder die publiek se aandag gebring word. Verder moet bestuursplanne opgestel word deur ons natuurbewaringsinstansies (Departement van Omgewingsake en Toerisme en provinsiale bewaringsdepartemente) vir die bewaring en beskerming van verteenwoordigende en geïsoleerde, suiwer bloukurperbevolkings in die land. Die poging gaan nie slaag as die publiek nie goed ingelig en gewillig is om saam te werk nie. Hierdie artikel is juis met hierdie doel saamgestel.
 
Belang van biodiversiteit
Die internasionale gemeenskap is erg bekommerd oor die vinnige agteruitgang van biodiversiteit in die wêreld. Baie meer soorte diere, eenselliges en plante sterf tans uit as wat daar nuwe soorte ontstaan en ons kan van ’n sesde massa-uitwissing praat, veroorsaak deur onnadenkende aksies van die mensdom.
 
Baie soorte sterf uit omdat hul spesifieke omgewing (bv woude en vleilande) deur ons aktiwiteite onleefbaar geword het. Ander soorte se habitat is uitgewis om plek te maak vir ons gerief – landbou, bosbou, damme, paaie, geboue, dreinering van vleilande. Dan is daar ook nog die bedreiging deur nuwe chemiese stowwe en gifstowwe, oorontginning en omgewingsvergiftiging.
 
En ten slotte het ons plant- en diersoorte vir ons gebruik of per abuis versprei en daardeur plaaslike soorte bedreig en geweldige probleme veroorsaak sodat daar ’n nuwe vakdissipline ontstaan het: indringerstudies (invasion ecology).
 
Een van die ergste bedreigings denkbaar is die verspreiding van verwante soorte wat kan kruis want dan is die genetiese kwaliteit vir altyd verlore – daar is nuwe en vreemde gene in die bevolking wat nooit weer daaruit geteel kan word nie
 
Wat sê die Wet op Biodiversiteit oor Nylkurpers?
Die Wet op Biodiversiteit (Nasionale Omgewingsbestuur: Wet op Biodiversiteit 2004 (NEMBA) maak spesifiek voorsiening vir die bewaring van die ontsaglike groot verskeidenheid plante en diere in Suid-Afrika. Effektiewe regulasies om die inheemse vissoorte te beskerm word ook ingesluit en behels onder meer dat:
• Geen inheemse of uitheemse vis wat ’n moontlike bedreiging vir die inheemse vissoorte of varswatersisteme inhou, sonder permit aangehou of veral vervoer of losgelaat word nie.
• Visboerdery en loslating van vis in riviere as beperkte aktiwiteite omskryf is en omgewingsimpakstudies (OIS) en vrystelling benodig indien uitheemse indringerspesies betrokke is.
• ’n Swartlys van visspesies wat hoegenaamd nie in SA gebring, aangehou of losgelaat mag word nie, opgestel is. Nylkurpers val hieronder.
• Die sorgdrakonsep toegepas word – as toestemming verleen word om met ’n indringerspesie te boer of in ’n geïsoleerde dam in te voer, is die persoon ook verantwoordelik vir die gevolge daarvan en enige ontsnapping van die vis in riviersisteme en opruimingsaksies as gevolg hiervan is op sy koste.
• Die eienaar van die grond waarop die uitheemse soort voorkom, verantwoordelik is vir die voorkoming van verklaarde uitheemse indringerspesies en ook aanspreeklik is daarvoor.
• ’n Streekkaart opgestel is waarvolgens uitheemse visse in sekere gebiede toegelaat word en nie in ander gebiede nie. Die kaart word tans vervang maar word intussen hier getoon –
die streke waar bloukurpers natuurlik voorkom, is heeltemal uitgesluit van enige loslating of aanhouding van Nylkurper.
• Daar word tans konsulteer om ’n eenvormige, stroombelynde stelsel van permitte in te stel, maar dit mag nog ’n tyd duur.
 
Effek van Nylkurpers op bewaring, loslating en hengel van bloukurpers
• Die bloukurper is op die rand van uitwissing as ’n spesie en sy bewaringstatus sal binnekort afgradeer moet word van die huidige “byna bedreig” (near threatened) na “krities bedreig” (critically endangered) as ’n IUCN Rooidataspesie.
• Die vernietigingsproses sal plaaslik tydelik deur die hoë keerwalle en veral damwalle van groter damme verhinder word – totdat ’n oorywerige hengelaar dit verder versprei. Daarna sal dit in ’n rivier of dam bo die hindernis beland, verbaster en dan verder stroomop migreer totdat daar geen suiwer bloukurpers meer oor is nie.
• Daar sal mettertyd nie meer met sekerheid bepaal kan word watter kurpersoort deur hengelaars gevang is nie. Alle rekords vir bloukurper (of Nylkurper) sal dus in twyfel getrek kan word, tensy bewys kan word dat die vis suiwer is.
• Die suiwer bloukurper sal alleen gevind kan word in afgeleë en geïsoleerde bolope van sommige riviere wat deur onoorkomelike keerwalle van die res van die sisteem geïsoleer word. Ons weet egter dat die bloukurper nie regtig in die hoogliggende dele van riviere voorkom nie; hierdie toevlugsoorde vir kurpers in damme in die bolope verteenwoordig moontlik nie die ideale omgewing vir dié vissoort nie, met die gevolg dat die geïsoleerde klein bevolkings daar oor tyd geneties kan agteruitgaan. ’n Ander veilige toevlugsoord vir bloukurpers is die kleiner riviere van KwaZulu-Natal wat eie opvangsgebiede en eie mondings in die see het en dus nie met die groter riviere verbind is nie. Selfs hierdie isolasie deur seewater is nie permanent nie want die bloukurper (en basters?, maar nie Nylkurpers nie) kan in seewater oorleef en dus selfs deur die see van een rivier na ’n ander migreer.
• Dit sal moeilik raak om suiwer bloukurpers te vind in die natuur vir teelt. Verder sal die plekke waar dit losgelaat kan word, baie beperk wees want as daar enige basters of Nylkurpers teenwoordig is, vind verbastering weer dadelik plaas.
 
Voorgestelde aksies wat nodig is om die voortbestaan van ons eie bloukurper te verseker:
• Hengelaars en boere: staak verspreiding van enige lewende vis wat nie gesertifiseer is nie.
• Bewaringsowerhede: gepaste ontwikkeling van visreservate in damme met hul bolope waar vislewe bewaringstatus kry, veral mbt inbring van enige lewende vis.
• Visekoloë: ondersoek na kurperbevolkings in alle groter damme en riviere in die bloukurperverspreidingsgebied om die genetiese status te bepaal. Gepaste bewaring van suiwer en unieke bevolkings moet daaruit volg.
• Genetici: ontwikkeling van ’n maklik uitvoerbare laboratoriumprotokol om die suiwerheid van ’n kurper vas te stel. Hierdeur kan sertifisering aan teelstasies vir suiwer bloukurpers verskaf word.
 
WAT KAN HENGELAARS DOEN OM VERDERE VERSPREIDING VAN NYLKURPERS TE VOORKOM?
 

Ken die vyand - uitken van die Nylkurper
Om lesers se taak te vergemaklik om die Nylkurper uit te ken en dit te rapporteer, verskaf ons die volgende tabel en foto’s. Dit illustreer die kenmerke wat die Nylkurper van die bloukurper onderskei.
 
Uitwendige verskille tussen die bloukurper en Nylkurper
 
Nylkurper (O. niloticus) Bloukurper (O. mossambicus)
Prominente regaf strepe dwarsoor die stert.
Getal strepe kan wissel van 3-22 . Stertvin het nooit regaf strepe nie maar mag spikkels hê wat in lyne lê.
Rugvin het nooit ’n duidelik afgebakende rooi rand nie, maar die rugvin en stertvin kan soms rooierig wees. Stert en veral rugvin met ’n duidelik rooi rand wat skerp afgebaken is op die rugvin.
Kop en lyf gewoonlik groenerig – van lig- tot donkergroen. Kop dikwels donkerder as lyf; kleur wissel van liggeel/blink tot blougrys en selfs swart na gelang van troebelheid van die water, geslag en broeifase.
Agt (wissel van 7-10) vertikale bande op lyf. Drie onduidelike kolle in horisontale ry op die lyf. Ses of sewe dowwe vertikale bande soms sigbaar op lyf.
Penne van die rugvin opvallend lank en dik.
Die rugvinstekels wissel mekaar af met dikker en dunner stekels. Penne van rugvin en buikvin korter, dun en skerp en wissel nie af in dunner en dikker stekels nie.
Rug- en buikvinne relatief hoog in vergelyking met die vis se hoogte. Rug- en buikvinne laer as by die Nylkurper van ooreenstemmende grootte.
Binnerand van iris van oog dikwels rooi of pienkerig, nie gelerig nie. Irisrand van oog van geel tot donkerbruin, nooit rooi nie.
Mannetjies in broeidrag toon ’n pienkerige kop en soms word die lyf ook pienkerig en selfs rooi. Mannetjies in broeidrag word tot pikswart met ’n helderwit of ligte keel en ken en prominente rooi rand van rugvin en stert.
Mannetjies ontwikkel nooit ’n hol kopprofiel en vergrote bek en lippe nie. Mannetjies se snoet het ’n hol profiel en vergrote bek en verdikte lippe.
 
Inwendige verskille
Die betroubaarste eienskap om die twee soorte van mekaar te onderskei, is die getal kiefharke. As mens die kiefdeksel oplig, kan die eerste kief se kiefharke getel word. In die geval van die bloukurper is die aantal kiefharke van die onderste (grootste) deel van die kief tussen 16 en 20 terwyl dit by die Nylkurper tussen 20 en 26 lê.
 
Aantal kiefharke van onderste deel van die eerste kiefboog is 20-26. Aantal kiefharke van onderste deel van die eerste kiefboog is 16-20.
 
Wat van bastervisse?
Bastervisse van die eerste paar generasies ná verbastering is nog maklik uitkenbaar aan ’n mengsel van beide voorouers soos in die illustrasie. Ná ’n paar geslagte mag die vis egter nie so duidelik as baster herkenbaar wees nie. Dit wil egter voorkom of Nylkurpergene dominant is en visse wat oppervlakkig na Nylkurpers lyk, dus eintlik basters is. Visse wat oppervlakkig na bloukurpers lyk, kan egter moontlik basters wees. Dan is genetiese en DNS-toetsing die enigste uitweg.
 
Die implikasies hiervan vir hengelaars en visboere is die volgende:
• Alle vis wat soos bloukurpers lyk van die reeds besmette dele (alle laer dele van die groot riviere waar die Nylkurper voorkom: Limpopo, Olifants, Krokodil, Incomati) asook die res van die verspreidingsgebied van bloukurpers moet as basters beskou word.
• Vis behoort glad nie verder versprei en losgelaat te word nie – mens versprei onwetend van die basters.
• Kurpers kan streng gesproke nie meer kwalifiseer vir hengelrekords vir bloukurper nie – onder watter spesie? Genetiese toetsing sal nodig wees.
• Dit geld ook vir Nylkurperhengelrekords.
 
Miskien moet ’n nuwe kategorie vir bastertilapia-hengelrekords geskep word!
 
Ons herhaal: Moet nooit enige vis lewend vervoer en loslaat nie – jy kan onwetend die probleem vererger!
 
Hengelaars kan help met insameling van inligting
Tans is daar geen georganiseerde navorsingsprogram om die uitbreiding van die verspreiding van Nylkurpers vas te stel nie. Dis egter belangrik om te weet hoe ver dié probleemvis al gevorder het. Die publiek en hengelaars in die besonder kan ’n waardevolle bydrae lewer deur op die uitkyk vir Nylkurpers of basters te wees. Duidelik foto’s van die hele vis, veral die stertgedeelte, kan help om die verspreiding te volg.
• Stuur foto’s van kurpers wat soos Nylkurpers lyk asseblief na navorsers vir verdere ondersoek. Stuur ’n e-pos met foto’s as inhoud of aanhangsel saam met die onderstaande besonderhede aan dr Ben van der Waal by bcwvis@gmail.com
• Sluit asseblief die volgende besonderhede in: plek (naam van rivier, dam en koördinate), hengelaar/versamelaar/fotograaf, datum, besonderhede bv: “enkele vis tussen 20 gewone bloukurpers”.
• As die foto’s duidelik en die inligting volledig is, sal die e-pos deurgestuur word na die Suid-Afrikaanse Instituut vir Akwatiese Biodiversiteit (SAIAB) waar dit in hul databasis as jou persoonlike bydrae opgeneem word.
 
Maak ander hengelaars bewus van die gevaar van verspreiding van Nylkurpers
Hengelklublede, boere en die algemene publiek moet bewus gemaak word van die gevaar en onwettigheid om enige lewendige vis te vervoer of los te laat sonder die vereiste permit. Dis almal se taak om te help dat sulke gebruike heeltemal gestaak word.
 
Kurpers en ander vis mag alleen vervoer en losgelaat word met die nodige permitte en van erkende vistelerye
Enige besetting van nuwe of bestaande damme met kurpers behoort vanaf ’n gesertifiseerde visteelstasie gedoen te word om moontlike genetiese kontaminasie van suiwer bloukurperbevolkings te verhoed. ’n Toepaslike provinsiale loslatingspermit moet ook verkry word om vis te vervoer en los te laat. Waar daar tans nie gesertifiseerde bloukurpers beskikbaar is nie, moet daarop aangedring word – ’n goeie besigheidsgeleentheid. Wie aanvaar dié uitdaging?
 
Bestaande kurperbevolkings in plaasdamme moet suiwer gehou word
Grondeienaars en hengelaars kan seker maak dat die bestaande kurperbevolkings in hul plaasdamme suiwer bly deur geen ongemagtigde besetting van vreemde vis toe te laat nie. Veral waar die dam deur ’n wal van meer as 5 m hoog beskerm word teen vis wat van verder stroomaf die dam wil binnekom, kan die bestaande suiwer kurperbevolkings van groot waarde word.
 
Stel spesiale bewaringsgebiede vir bloukurpers voor
Die owerhede moet versoek word om geïsoleerde riviersisteme in natuurreservate of bokant sekere damme as spesiale visbewaringsgebiede te verklaar waar bloukurpers beskerm word deur geen ander vis daar toe te laat nie. Dit hoef egter nie beperkings op die vang en benutting van kurpers te plaas nie – dis nie ’n getallebedreiging nie!
 
Reël bloukurperhengelkompetisies
Spesiale bloukurperhengelkompetisies behoort gehou te word (daar is reeds sulke kurperkompetisies in Loskopdam maar dit kan uitgebrei word). Hierdeur kan die waarde van ons bloukurper as nasionale hengelvis verhoog word.
 
Hou Nylkurpers uit ons riviere
Visboerderyontwikkeling word deesdae sterk deur die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye bevorder. Nylkurpers word wêreldwyd in warmer gebiede verkies vir akwakultuur en dit geld seker ook maar vir Suid-Afrika. Die verspreiding van Nylkurpers vir hengel- en visboerderydoeleindes moet dan streng beheer word. Dit behoort alleen losgelaat te word waar dit reeds in riviere voorkom en alle moontlike voorsorgmaatreëls getref is om die vis tot geïsoleerde hersirkulerende sisteme te beperk. Die Departement van Omgewingsake behoort beter toe te sien dat die regulasies betreffende die invoer en vervoer van lewende vis in al die betrokke provinsies effektief toegepas word.
 
Geen ongemagtigde verspreiding van enige kurper nie
Geen Nylkurpers behoort deur ’n visteelstasie of enige troeteldierwinkel aangehou of verkoop te word nie. Die gevaar bestaan dat vreemde vis per abuis in riviersisteme kan beland as vistenkeienaars ontslae wil raak van die vis wat nou darem te aggressief of groot begin raak.
 
Kan akwakultuur met Nylkurpers hoegenaamd toegelaat word?
Dié aspek is nog nie opgeklaar nie. Dit sou jammer wees as voornemende visboere en die bewaringsinstansies nie tot ’n vergelyk kan kom nie. Tans is daar nog geen effektiewe protokol om visboerdery met Nylkurpers toe te laat nie. Dit sou bv redelik wees om boerdery met Nylkurpers toe te laat onder streng voorwaardes in daardie gebiede waar die Nylkurper reeds in riviere voorkom. Op hierdie manier sal ’n potensiële nuwe industrie nie totaal gerem word deur beheermaatreëls nie.


;);););););););););););););););););););););););););););););););););););)


Back To Top PM Quote Reply  


Current time is 02:15 am  
SEALINE - South African Angling and Boating Community > Freshwater Angling > Kurper Forum > DIE BEDREIGING VAN ONS BLOUKURPER (VIR ELKE HENGELAAR) Top